calendar

 

Daniel Hugo

Biography

Daniel Hugo (Stellenbosch, 1955) is a South African poet, literary journalist and translator of, among others, the Dutch-language writers Harry Mulisch, Herman de Coninck, Rutger Kopland, David van Reybrouck and Tom Lanoye.

Top

Authors' text

Die taal is 'n bos

Villa Hellebosch lê in 'n pragtige bos teen 'n helling van die dorpie Vollezele. Dit is 'n enorme dubbelverdiepinghuis met 'n rietdak. (Die mense van die omgewing verwys daarna as die "kasteel", sou ek later in die dorpskroeg verneem.) Die bos bestaan onder meer uit populiere, kastaiings, eike en - my asem slaan weg - beukebome. Dit is die eerste keer in my lewe dat ek hierdie lang en slanke wolkekrabbers aanskou. My kamer is op die boonste verdieping van die villa en kyk uit op die beuke. Snags word ek bewus van hulle gerusstellende geritsel. Mag alle byle ver bly van dié bos.

*

Firat Cewerî is van Swede, maar hy is 'n Koerd wat as jong Kommunis sewe-en-twintig jaar gelede uit Turkye padgegee het. Lang storie, lang aand. Ons sit in sy werkkamer weerskante van sy lessenaar. Die ateïstiese Moslem drink whisky tydens Ramadan, en die ongelowige Christen drink veel meer wyn as wat by die Nagmaal toegelaat word. Ongelukkig is die enigste taal waarin ons kan kommunikeer Engels, meer presies: gebroke Engels. Vir Firat is dit sy vierde taal ná Koerdies, Turks en Sweeds. En al kom ek uit 'n land waar Engels die belangrikste van elf amptelike tale is, het ek in Suidwes-Afrika (Namibië) grootgeword waar 'n mens veertig jaar gelede selde Engels gehoor het. Op skool is selfs die vak Engels deur medium Afrikaans onderrig. Dit is nog altyd verkieslik bo die toestand in Turkye waar Koerdies as skooltaal heeltemal verbode is.

Koerdies en Afrikaans is verlangs familie, vertel Firat my. Albei is van Indo-Europese oorsprong. Hy lees vir my voor uit een van sy romans. En inderdaad: daar klink die bloedeie, gutturale klank op. Ons is nie net verlangse neefs nie, maar broers - veral drinkebroers. Halfpad deur die aand raak Firat se tong lam. Dit kom van te veel Engels praat. Hy trek sy skootrekenaar nader en skakel dit aan. Die skerm word helder, en vir die res van ons gesprek kyk hy van tyd tot tyd na die Koerdiese woorde van sy roman-in-wording. Ek neem nie aanstoot nie, want hy koester hom in die gloed van sy miskende moedertaal.

Ek vertel vir Firat dat die eerste Afrikaanse skool in Suid-Afrika deur 'n Koerd opgerig is. Sjeg Abu Bekir (Bakr) het in 1862 uit Turkye in Kaapstad aangekom om godsdienstige twiste onder die Kaapse Moslems te besleg. Hulle was hoofsaaklik nakomelinge van slawe uit die Ooste wat in 1834 vrygestel is. Dié slawe wat onder meer Maleissprekend was, het gehelp om Afrikaans uit die sewentiende-eeuse Nederlandse stam te beitel.

In die jaar van sy aankoms begin Abu Bekir die Moslem Theological School. Ondanks die Engelse naam van die skool was die voertaal Afrikaans. Abu Bekir was ook die skrywer van die Bajaanmoeddien ("Openbaringe van die geloof"). Dit is 'n godsdienstige handleiding, uit Arabies vertaal in Afikaans. Die Kaapse Moslems het klaarblyklik gesukkel om die Arabies van die Koraan te verstaan, omdat hul moedertaal Afrikaans was (en in 'n groot mate nog steeds is). Abu Bekir het noukeurig gehou by die gesproke taalvorm, en 'n fonetiese weergawe daarvan in Arabiese skrif weergegee. Die Bajaanmoeddien wat as 'n handboek vir die leerlinge gedien het, is uiteindelik in 1879 in Konstantinopel (Istanboel) gedruk. Ná Abu Bakr se dood in 1880 het daar nog 61 Afrikaanse geskrifte in Arabiese letters verskyn; die laaste een in 1957.

*

In die onderste gang van Villa Hellebosch is daar 'n rak met die skeppings van die skrywers wat hier gebly het. Aan die oorkantste muur hang 'n hele galery foto's van die einste outeurs. Een van hulle is die Nederlandse digter Erik Menkveld, van wie daar drie bundels op die rak staan. In Prime time (Uitgeverij G.A. van Oorschot, Amsterdam) ontdek ek "Dichter en fazant te Hellebosch" opgedra aan Alexandra Cool, eienaar van die villa en ons gasvrou.

Een klaroenstoot haalt hem uit zijn werk.
Vanachter zijn tafel een blauw gemarmerd
knaloranje spektakel in de herfstige
spikkelpopulieren achter de haag.

Onder zijn appelrodewingerdrankomaderde
raam versprinkt een geelvink
in de rozelaar, staart hem scheef
aan en schiet weg in de boomgaard.

O kleurloos getsjilp in mijn hersens
denkt hij. Een fazant laat zich niet zien
onder onmiddellijke woorden als vermiljoen,
paarlemoer, valavond, zwerk.

Aangesien ek hier tuisgaan as vertaler uit Nederlands, my Afrikaanse vertaling:
Digter en fisant by Hellebosch

'n Trompetgeskal steur hom in sy werk.
Hy kyk op en sien 'n blou marmergestreepte
knaloranje spektakel in die herfstige
spikkelpopuliere agter die heining.

Buite sy appelrooiwingerdblaarberankte
venster spring 'n geelvink rond
in die roosboom, kyk hom skeef aan,
vlieg skielik weg na die boord.

O die kleurlose getjilp in my kop
dink hy. 'n Fisant bly onsigbaar
in onmiddellike woorde soos vermiljoen,
perlemoen, skemeraand, swerk.

Die gedig gaan oor die uitdaging om die klinkende, kleurvolle, bewegende werlikheid te beskryf- sonder om in geykte taalgebruik te verval. In die slotstrofe gee die digter 'n rytjie "poëtiese" woorde wat hy as verslete en daarom as onbruikbaar beskou. As teenvoeter skep hy die neologismes "spikkelpopulieren" en "appelrodewingerdrankomaderde".

Soos te verwagte is daar onvertaalbaarhede in Menkveld se gedig wat minder bevredigende Afrikaanse ekwivalente moes kry. Daardie "klaroenstoot" waarmee die vers so welluidend begin, word 'n veel lomper "trompetgeskal". Die enkele helder noot word 'n kermisagtige fanfare. Die halfrymende "klaroen" / "knaloranje" gaan ook daarmee verlore, maar word in 'n mate vergoed deur die klankooreenkomste tussen "geskal" en "spektakel". (Dit val my nou op dat die "blauw gemarmerd / knaloranje spektakel" van 'n fisant inderdaad as 'n soort kermisattraksie voorgestel word.) In reël 2 van dié strofe is my "blou marmergestreepte" weer eens omslagtiger (en minder presies) as "blauw gemarmerd".

Daardie lang nuutskepping in die openingsreël van strofe 2 ("appelrodewingerdrankomaderde") is noodgedwonge anders weergegee in Afrikaans, omdat die woord "omaarde" vir "omaderde" onduidelik en selfs dubbelsinnig is - die leser sou kon dink dit verwys na die "aarde" en nie na "are" nie. Die "raam" (venster) word in die Nederlandse gedig deur die wingerdranke "omader", waarmee assosiatief na die woord "gemarmerd" in die eerste strofe verwys word. Marmer vertoon naamlik kronkelende strepe of are. Van Dale praat van 'n "mozaïektextuur" en gee die frase "geaderd marmer" aan. Dit alles gaan in my vertaling verlore. Die allitererende b-klank wat uit die Afrikaanse strofe opklink, vergoed nie vir dié semantiese verlies nie.

In die slotstrofe kom die poëtiese woorde - wat die digter onmiddellik en al te maklik te binne skiet - naamlik "vermiljoen", "paarlemoer" en "zwerk" gelukkig ook in Afrikaans voor. Tog jammer dat die Nederlandse "valavond" in donker Afrika heeltemal verduister geraak het.

*

Nog 'n bewoner van die villa-in-die-beukebos is Paul Buekenhout. (What's in a name?) Hy is die algemene bestuurder van "Het beschrijf" wat hierdie huis bedryf. Ek ry saam met Paul na Brussel waar ek 'n paar Nederlandse boeke wil koop. Hy kies smal kortpaadjies tussen weivelde, suikerbeet- en mielielande deur. Skielik vlieg daar 'n fisant uit 'n heinig op. Presies die pragtige spektakel wat Erik Menkveld in sy gedig beskryf het. So kry die woord vlerke.

In die boekwinkel Passa Porta - met die beste aanbod Nederlandse boeke in die Belgiese hoofstad - val 'n mooi uitgawe van die stigting Ons Erfdeel my dadelik op: Overeind in Babel. Talen in Europa. Daarin skryf sestien outeurs oor hul moedertaal, alfabeties van Baskies tot Turks. (Namens Firat mis ek Koerdies.)

Ek blaai dadelik na Adriaan van Dis se stuk oor Nederlands, want sedert sy omstrede boek oor Suid-Afrika, Het beloofde land, is hy nie onbekend in ons "wye en droewe" land nie. Tot my verrassing sien ek dat sy opstel net soveel oor Afrikaans ("een onder de zuiderzon gebakken Nederlands") as oor sy eiesoortige Nederlands handel. Sy vader was uit Indonesië afkomstig en het enersyds 'n stywe, ouderwetse Nederlands gepraat en andersyds Petjoh oftewel gekreoliseerde Nederlands met talle Maleise woorde. Van Dis noem dit Indo-Hollands. Sy kennismaking met die ligweg gekreoliseerde Afrikaanse taal het hom die vryheid gegee om in Nederlands te begin skryf. Veral die volkstaal van N.P. van Wyk Louw se Klipwerk-versereeks het hom laat dink aan Petjoh, "de eerste klanken uit mijn jeugd".

Dit is dieselfde Louw wat Suid-Afrika 'n wye en droewe land genoem het. Toe Van Dis in die vroeë tagtigerjare van die vorige eeu daar gaan studeer het, was die apartheidsregime op die toppunt van sy gewelddadige magsuitoefening. 'n Droewe land beslis. Vir Adriaan van Dis was daar egter 'n geluk by die ongeluk: "Dankzij het Afrikaans ontwikkelde ik een eigen stijl".

Presies honderd en sestig jaar ná die vrystelling van die slawe het Suid-Afrika in 1994 'n bevryde, volledig demokratiese samelewing geword. Sedertdien kon Afrikaans ontslae raak van die etiket "verdrukkerstaal". Afrikaans is nou ook, om die term van Van Dis te gebruik, 'n vrytaal.

*

Die Indo-Germaanse bos ritsel en ruis oor 'n groot deel van die aardbol. En in Suid-Afrika het dié koloniale aanplanting wonder bo wonder die byl oorleef.

Villa Hellebosch, Vollezele
Oktober 2007

Top
Villa Hellebosch
28.09.07 > 14.10.07

Bookmark and Share Back